News24

Afrika: Bron van groei

2012-03-07 05:00
Johannesburg. – Afrika hou groot moontlikhede in as uitvoerbestemming vir Suid-Afrikaans-vervaardigde voertuie.

Mnr. Gavin Maile, Afrika-voertuigbedryfsleier van KPMG, sê hoewel uitvoervolumes na lande soos Algerië, Nigerië en Zimbabwe tans nog relatief laag is, is die groei in dié markte groot en sal daar na verwagting in die toekoms al hoe meer op Afrika-markte gesteun word.

Tans is die VSA Suid-Afrika se grootste uitvoermark, gevolg deur Europa en Japan.

Maile het gister op die bekendstelling van die KPMG Global Automotive Executive Survey 2012, ’n opname onder meer as 200 internasionale senior uitvoerende amptenare in die motorbedryf (sien kassie), gesê algehele voertuiguitvoer uit Suid-Afrika het verlede jaar met 14% tot 272 457 eenhede gestyg.

Dit verteenwoordig sowat 96% van die uitvoer wat in 2008 (die grootste uitvoerjaar tot dusver) bereik is.

Die totale verkope van nuwe voertuie het verlede jaar die verwagtinge oortref en met sowat 16% tot 572 241 eenhede gestyg, hoewel dit steeds net sowat 80% van die totale verkope van 2006 verteenwoordig.

Hoewel bedryfsrolspelers matige voertuigverkoopsgroei vir vanjaar verwag, sê Maile die plaaslike voertuigmark sal nie weer ’n bloeitydperk beleef voor die bruto binnelandse produk (BBP) teen vlakke van 5% of 6% per jaar groei nie. Die plaaslike ekonomie het verlede jaar met sowat 3% ­gegroei.

Die rol wat bekostigbaarheid in voertuigverkope speel, word onderstreep deur die skerp groei in die verkope van intreevlakvoertuie (byvoorbeeld die Yaris, Fiesta en Indigo) wat in 2010 verkoopsgroei van sowat 83% beleef het. Lae voertuigprysinflasie in dié segment het verder tot dié tendens bygedra.

Ingevoerde voertuie het ook markaandeel gewen.

Altesame 69% van die nuwe passasiersvoertuie wat verlede jaar verkoop is, was ingevoerde voertuie vergeleke met 66% die vorige jaar.

Dié tendens het oor die afgelope jare geleidelik opwaarts geneig namate die invoerheffing gedaal het. In 2005 is een plaaslik vervaardigde voertuig vir ­elke ingevoerde voertuig verkoop.

Wat komponente betref, sê Maile die uitvoer van katalitiese omsetters het verlede jaar steeds geweldige sukses getoon en hopelik sal die bystand vir kwesbare bedrywe – wat as deel van die produksie- en ontwikkelingsplan (APDP) in werking gestel sal word, die groei verder ondersteun.

Die groot negatiewe handelsbalans is egter ’n bron van kommer; veral in die lig van Suid-Afrika se werkskeppingsteikens.

Maile sê die negatiewe handelsbalans is hoofsaaklik die gevolg daarvan dat komponente van sowat R70 miljard ingevoer word terwyl daar net komponente van R35 miljard uitgevoer word.

Hy sê dis belangrik dat dié wanbalans aandag geniet omdat daar oor die algemeen meer werk geskep kan word indien die persentasie plaaslike komponente in vervaardigde voertuie verhoog word.

Meningspeiling

 - Elektriese voertuie sal teen 2025 nie meer as 15% van die registrasie van nuwe voertuie verteenwoordig nie.

 - 75% van respondente glo voertuigmarkte in opkomende lande sal teen 2025 deur dieselfde geleenthede en uitdagings as ontwikkelde lande in die gesig gestaar word.

 - 76% van respondente sê brandstofdoeltreffendheid is die belangrikste faktor wat voertuigverkoopbesluite
beïnvloed.

 - Bykans twee derdes van respondente meen die optimalisering van die binnebrandenjin sal in die volgende vyf jaar groter doeltreffendheid en meer potensiaal om koolstofvrystellings te verminder bied as elektromobiliteitstegnologie.