News24

Swart GR’s voel ontuis en waai gou

2012-06-06 05:00 Johannesburg. – Talle swart geoktrooieerde rekenmeesters verlaat die bedryf omdat hulle oral deur wit mense omring word.

Só het Tsakani Maluleke, voorsitter van die Raad vir Geoktrooieerde Rekenmeesters, gesê.

Sy het op ’n mediakonferensie ’n verslag uitgereik oor die vordering met transformasie in die bedryf en het verduidelik waarom swart rekenmeesters baie gou groener weivelde soek.

Verlede jaar was 7% van die geok­trooieerde rekenmeesters (GR’s) in die land swart, teenoor 2% in 2002. Bruin GR’s het van 1% tot 3% toegeneem en Indiërs van 5% tot 9%.

Danksy transformasie die afgelope nege jaar verteenwoordig wit mense nou 81% van die GR’s in die land teenoor 92% in 2002.

Dié syfers kom uit ’n opname in die rekenmeestersbedryf. Malu­leke sê hoewel net 30% van die bedryf deelgeneem het, word dit as voldoende beskou om ’n gevolgtrekking te kan maak omdat die “vier grotes” – KPMG, Ernst & ­Young, Deloitte en PwC – onder die deelnemers is.

Swart GR’s bly nie lank in die bedryf nie omdat maatskappye nie ’n “goeie omgewing” vir swart GR’s is nie, want hulle kan met niemand identifiseer nie – “hulle word omring deur wit GR’s”, het Maluleke gesê. “Dit is menslik dat hulle so voel.”

Omdat goeie loopbaanbeplanning nie altyd op skoolvlak gedoen word nie, is die bedryf heeltemal anders as wat hulle verwag het, sê sy. Daar kan egter nie met sekerheid gesê word dat meer swart GR’s die bedryf verlaat as wittes nie.

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) werp alles in die stryd om dit vir belowende swart en bruin studente moontlik te maak om hulle as GR te kwalifiseer. Die SAIGR se Thuthuka-projek, wat beurse aan dié studente bied, het sedert 2005 etlike honderde studente ondersteun.

Chantyl Mulder, die SAIGR se uitvoerende hoof belas met transformasie, het gesê al hoe meer swart en bruin kandidate skryf die kwalifiserende eksamen. Die getal swart mense wat in 2002 vir die eerste deel van die eksamen ingeskryf het, het van 13% tot 24% verlede jaar toegeneem.

Maluleke sê die raad belê voortdurend in beurse. Daar is ook ’n behoefte aan meer geakkrediteerde universiteite.

“Die bedryf is uit sy wegspringblokke. Ons maak vordering, maar daar is nie ’n towerstaf nie. Die veranderinge sal met voortdurende en volgehoue inspanning kom,” sê Maluleke.

Transformasie geskied stadig omdat GR’s se opleiding sewe jaar duur.

Die raad en die SAIGR werk onverpoos om leerlinge van vroeg af oor die regte vakkeuses in te lig. Mulder sê baie leerlinge kies wiskundige geletterdheid bo gewone wiskunde en dít is waar die probleme begin. Suiwer wiskunde is ’n ononderhandelbare voorvereiste vir dié beroep.