News24

Waghond hap aanhoudend na baas

2012-07-22 05:00 Pretoria. – Terwyl die Verbruikerskommissie die een saak ná die ander verloor omdat hy verkeerde prosedures volg, is die kommissaris, Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, op die oorlogspad.

Lionel October, direkteur-generaal van die departement van handel en nywerheid, het aan Sake24 gesê Mohlala-Mulaudzi vra nou dat die kommissie onder die beheer van ’n ander departement geplaas word nadat sy ’n vorige hofsaak verloor het waarin sy gevra het dat die kommissie onder die direkte beheer van die parlement geplaas word.

Kgalalelo Masibi, woordvoerder van die openbare beskermer (OB), het ook in die afgelope week bevestig dat Mohlala-Mulaudzi in Maart ’n klag by die OB ingedien het oor die departement se “misbruik van mag en sy hantering van die kommissie se finansies”.
Masibi sê ’n ondersoek na dié klag is byna afgehandel.

Intussen is daar talle klagtes, onder meer op die webwerf hellopeter.com, oor geen of swak diens van die kommissie. Dit is ten spyte daarvan dat Mohlala-Mulaudzi onlangs ’n dienshandves in die Staatskoerant gepubliseer het waarin sy onderneem om verbruikers teen onetiese sakepraktyke en wangedrag te beskerm.

Volgens October is die departement van handel en nywerheid veral bekommerd oor wat in die Auction Alliance-saak gebeur het.

Die Verbruikerstribunaal het die kommissie se voldoeningskennisgewing aan die afslaer ter syde gestel.

“Die minister het ’n amptelike brief aan die kommissaris geskryf waarin hy haar vra om regstellende maatreëls in te stel,” het hy gesê. “Ons het lank en hard baklei vir ons verbruikersregte en in hierdie geval lyk dit asof die verbruiker se regte geskend is.”

Hy sê die departement het ook ’n verslag van die Verbruikerstribunaal ontvang oor sake wat voor hom gedien het waarin dit lyk asof daar ’n gebrek aan voorbereiding deur en administratiewe probleme by die kommissie is.

“As gevolg van wat lyk soos ’n patroon, het ons gevra dat die kommissaris verslag doen oor wat eenvoudige prosedurele foute blyk te wees,” sê October.

Robby Coelho, ’n vennoot by die prokureursfirma Webber Wentzel, het in ’n onlangse verklaring gesê hy loof die kommissie vir sy vasbeslotenheid en entoesiasme, maar hy meen hy tree onverantwoordelik teenoor ondernemings op deur gereeld foutiewe
nakomingskennisgewings uit te reik.

“Slegs ’n handjievol groot maatskappye het die vermoë en hulpbronne om hulself te verdedig,” sê Coelho. In sommige gevalle is klein ondernemings verplig om aan die kennisgewings te voldoen, selfs al is die klagte teen hulle nie geregverdig nie, en kos dit soms veel minder om te skik as om ’n saak teen te staan.

“Die doel en doelwitte van die Wet op Verbruikersbeskerming is baie belangrik en die kommissie vervul ’n kritieke funksie om te verseker dat dit bereik word, maar hy moet sy magte met bevoegdheid en wettig uitvoer,” sê Coelho.

Geordin Hill-Lewis, ’n woordvoerder van die DA oor handel en nywerheid, wat twee maande gelede nog gesê het die enigste verloorders in ’n oorlog tussen die departement en die kommissaris is gewone verbruikers wat tot nou toe nog baat gevind het by Mohlala-Mulaudzi se ampstermyn, het dié week gesê: “Wat ons nou by die kommissie sien, is hartseer vir gewone verbruikers.”

Volgens hom is die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid gereeld ingelig oor die probleme by die kommissie.

“Die kern van die probleem is die algehele verbrokkeling in die verhouding tussen die verbruikerskommissaris en die departement.

“Dit het so erg geraak dat die departement nie meer vir die kommissie sy begroting gee nie, wat beteken dat sy e-posstelsels nie gehandhaaf word nie en hy nie sy rekeninge betaal of selfs sy personeel kan betaal nie,” sê Hill-Lewis.

“Dit beteken ook die kommissie kan nie betaal vir goeie regsadvies nie, wat daartoe lei dat hy sommige hoëprofielsake verloor, soos sy pynlike nederlaag in die saak van DStv en meer onlangs in die Auction Alliance-saak,” sê hy.

October sê daar is geen persoonlike gevoelens tussen die departement en Mohlala-Mulaudzi nie.

“Ons bestuur 15 ander agentskappe en het nog nooit ’n probleem met die verantwoordelike beamptes gehad nie. Die probleem is ’n bestuursprobleem. In die geval van die Verbruikerskommissie wil die kommissaris nie die minister se gesag aanvaar nie.”

Hy sê dis ook nie waar dat die kommissie nie hulpbronne het nie.

“Die departement betaal al die kommissie se lopende uitgawes, soos telefoonrekeninge, salarisse en die huurkontrak.

“Daar was probleme met die kommissie se finansiële stelsels en ons het gevra dat dit reggestel word.”

In ’n brief wat October die afgelope week aan Mohlala-Mulaudzi gestuur het, sê hy die departement word oorval deur medianavrae oor wanadministrasie by die kommissie en word sy gevra om dringend aandag daaraan te skenk en die departement in kennis te stel van die vordering.

Dr. Wilmot James, die DA se hoofwoordvoerder oor handel en nywerheid, sê dis van die grootste belang dat dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, dringend doen wat nodig is om van die Verbruikerskommissie ’n ten volle funksionele entiteit te maak.

Hy sê hoe vroeër die kommissaris vervang word, hoe beter.

Sake24 kan ongelukkig nie die kommissie se kant van die saak stel nie, aangesien Mohlala-Mulaudzi ná vyf dae nog nie navrae beantwoord het nie.

Sy het wel by die persombudsman gekla dat sy vermoed hierdie artikel sal ongebalanseerd en onregverdig wees sonder haar kommentaar.
 
Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, kommissaris van die Nasionale Verbruikerskommissie, is op die oorlogspad met die departement van handel en nywerheid in haar visier.

Tydlyn van flaters in 2012

  19 Julie
Die kommissie mis sy sperdatum om betooghoofde in ’n saak teen MTN by die tribunaal in te dien.

  13 Julie
Mediese fondse verneem in die media dat die Verbruikerskommissaris hulle gelykheidshof toe sleep.

  11 Julie
MTN vra dat die tribunaal ’n voldoeningskennisgewing ter syde stel. Die kommissie daag onvoorbereid by die verhoor op en kry spesiale vergunning om sy betooghoofde teen 18 Julie by die tribunaal in te dien, anders sou die tribunaal sy besluit moet grond op MTN se betoog.

  11 Julie
Die Verbruikerstribunaal stel ’n voldoeningsnota ter syde in die kommissie se saak teen Auction Alliance.

  29 Junie
Die Verbruikerstribunaal bevind dat ’n voldoeningsnota wat die kommissie aan Hyginique Toilet Hire & Sales bestel het, onredelik en onregverdig is.
Die kommissie daag nie by die verhoor op nie en dien nie sy beantwoordende verklaring in nie. Daar is volgens die tribunaal geen bewys dat die kommissie enige ondersoek na die saak gedoen het nie en die voldoeningskennisgewing word gekanselleer.

  18 Junie
Die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind ’n dagvaarding wat die kommissie teen Auction Alliance en sy direkteure uitgereik het, is ongrondwetlik en ongeldig en stel dit ter syde.

  8 Junie
Die tribunaal bevind dat ’n voldoeningskennisgewing wat die kommissie aan Vodacom uitgereik het, onwettig, onredelik en prosedureel onregverdig is.

  1 Junie
Die kommissaris verloor haar saak – met koste – waarin sy vra dat die minister van handel en nywerheid verbied word om van haar ontslae te raak wanneer haar kontrak in September -verstryk.

  30 Maart
Altesame 45 voldoeningskennisgewings wat aan die Johannesburgse metroraad bestel word, word gekanselleer omdat die kommissie nie die korrekte wetlike proses gevolg het nie.

  19 Maart
Die tribunaal kanselleer die voldoeningskennisgewing wat die kommissie aan MultiChoice bestel het omdat die kommissie nie eers met Okosa, die reguleringsowerheid, beraadslaag het soos die wet vereis nie.