News24

Geleenthede vir beleggers

2012-07-22 22:18 Kaapstad. – As een van die Brics-lande bied Brasilië groot groeigeleenthede vir beleggers, maar dis ’n baie moeilike land vir buitelanders om in sake te doen, en Suid-Afrikaanse maatskappye wat wil waag om hul daar te begewe, moet goeie huiswerk doen.

Só sê Glenn Silverman, beleggingshoof van Investment Solutions.

Hy en Chris Hart, hoofstrateeg by Investment Solutions, is pas terug van ’n besoek aan Brasilië. Investment Solutions wil oor die loop van net meer as twee jaar die lidlande van die Brics-groepering buiten Suid-Afrika goed leer ken om die beleggingsmoontlikhede daar te verstaan.

Die volgende land aan die beurt is Indië.

Silverman het by ’n praatjie gesê Brasilië het Brittanje verlede jaar verbygesteek as die sesde grootste ekonomie ter wêreld.

Dit is die elfde grootste olieprodusent en kan teen 2020 tot die top-vyf opskuif.

Brasilië het ’n werkloosheidsyfer van 6% teenoor Suid-Afrika se meer as 25%. Hart meen die geheim van Brasilië se lae werkloosheid is die groot kleinsakesektor.

Brasilië se infrastruktuur is swak, maar klein sake is minder afhanklik van infrastruktuur en vaardighede as groot sakeondernemings, verduidelik Hart.

Toe Brasilië onder hiper-inflasie gely het, is die groei van groot sakeondernemings gerem en het klein sake kans gekry om te blom.

Hart meen as Suid-Afrika vandag sy arbeidswette skrap sal dit geen verskil aan werkloosheid maak nie omdat kleinsake nie aan die kern van die land se nywerheids- en groeibeleid is nie.

Kleinsake in Suid-Afrika is onder druk. Boonop verhoog regulering in Suid-Afrika die toegangsversperrings vir kleinsake en maak dit die speelveld minder gelyk.

Hart sê hiper-inflasie het verhoed dat Brasilië in infrastruktuur belê omdat wegholinflasie ’n groot impak op beleggingstydskedules het, terwyl infrastruktuurbesteding ’n lang tydraamwerk vereis.

Silverman sê dis baie moeilik vir buitelanders om daar mee te ding weens proteksionisme, swak infrastruktuur, die regering wat ’n oorheersende rol in die ekonomie speel, ’n baie ingewikkelde en swaar belastinglas, en die feit dat min Engels gepraat word.

Tog kry hy die indruk daar is ’n atmosfeer van samewerking tussen die regering en die sakesektor.

Daarenteen, sê Hart, word werkgewers in Suid-Afrika deur die regering en vakbonde bykans as ’n “euwel” beskou.

“Wat van ‘werkgewer-skepping’ as werkskepping?” vra Hart.

Hy glo Brasilië wys werkloosheid kan opgelos word selfs in ’n ekonomie met beperkte vaardighede, infrastruktuur en swaar belastings – danksy die entrepreneuriese gees van ’n lewendige klein­sakesektor.


Rio de Janeiro (op die foto) en São Paulo in Brasilië was een van die twee stede wat Investment Solutions onlangs besoek het as deel van hul ondersoek na die beleggingsklimaat van die Brics-lande. Foto: Vecd.org