News24

Vukile dra die kroon

2012-07-22 22:18 Johannesburg. – Die eiendomsleningseffektemaatskappy Vukile het die hoogste geannualiseerde totale opbrengs (inkomste en kapitaal) oor drie jaar behaal onder die fondse wat deur die Investment Property Databank (IPD) gemeet word.

Dié maatskappy se totale opbrengs van 17,5% vir sy algehele portefeulje het hom die IPD se oorhoofse toekenning vir 2012 in die sak gebring op die 10de IPD-eiendomsbeleggingskonferensie, wat verlede week in Kaapstad gehou is.

Dit is beduidende hoër as die IPD se maatstaf van 10,9%.

Stan Garrun, besturende direkteur van IPD Suid-Afrika, sê die resultate is gegrond op objektiewe finansiële kriteria en weerspieël die onderliggende waarde van die eiendomsportefeulje.

Die IPD se databasis sluit in genoteerde en ongenoteerde eiendomsfondse, wat 65% van alle professioneel-bestuurde eiendom in Suid-Afrika verteenwoordig.

Vukile het ook die toekennings vir die beste totale opbrengs vir kantoor- en nywerheidseiendom verower.

Sy kantoorportefeulje het ’n totale opbrengs van 16,3% behaal oor drie jaar en sy nywerheidseiendomsportefeulje 19,5%.

Laurence Rapp, uitvoerende hoof van Vukile, sê die toekennings is ’n getuigskrif van die maatskappy se vermoë om voortgesette waarde vir eenheidhouers te genereer.

Die maatskappy het onlangs in sy jaarverslag gesê dat die tyd ryp is om sy portefeulje meer aggressief uit te brei as vantevore.

Die genoteerde eiendomsfonds Resilient is bekroon vir die beste kleinhandeleiendomsvertoning met ’n totale opbrengs van 17,9% oor drie jaar, teenoor die IPD-maatstaf van 11,1%.

Dié maatskappy, wat hoofsaaklik op oorheersende sentrums in nie-metropolitaanse gebiede fokus, het onlangs aangedui dat hy sy vlerke na Nigerië toe gaan sprei.

Resilient besit onder meer die Mall of the North in Polokwane saam met Flanagan & Gerard en die Moolman Groep.

Internasionale handelsname soos Diesel, Levi’s, Sketchers, Fabiani en Cotton On open binnekort hul deure in die sentrum.


The Mall of the North in Polokwane. Dié sentrum van 75 000 m² word gesamentlik besit deur Resilient, Flanagan & Gerard en die Moolman Groep. Foto: Verskaf