News24

Life Healtcare positief oor groei

2010-12-01 08:06
Life Healthcare se genormaliseerde verdienste per aandeel asook sy omset het in die boekjaar tot einde September verstewig.

Dié privatehospitaalgroep is vol vertroue dat die toenemende vraag na gesondheidsdienste nog goeie groei in die toekoms inhou. Dis die maatskappy se eerste resultaat-aankondiging sedert sy notering op die JSE in Junie.

“Life Healthcare het goed gevaar in die oorsigtydperk – hy is in ’n gesonde finansiële posisie en bereik sy strategiese doelwitte,” het die groep gister met die bekendmaking van sy boekjaarsyfers verklaar.

Die groep se omset het met 10,8% tot R8,786 miljard gestyg. Die omset van die hospitaalafdeling het met 11,6% verstewig, gerugsteun deur ’n styging van 2,5% in betaalde pasiëntdae.

“Die hoë voorkoms van siektes, tesame met ’n groeiende en verouderende mediesefondsbevolking, dra by tot die toenemende vraag na hospitaaldienste. Dít het saam met die groter aantal beskikbare beddens tot die verhoogde betaalde pasiëntdae gelei.”

Volgens ontleders toon die mark vir private gesondheidsorg goeie groei. Dit word aangehelp deur ’n toename in mediesefondslede ten spyte van die werkverliese oor die afgelope jaar en die swak gehalte van staatshospitale. Dis veral die oorlading van openbare geriewe wat meer mense aanmoedig om die private sektor te gebruik, wat groter groeigeleenthede aan privatehospitaalgroepe bied.

Die afgelope jaar het die groep aan die Life Beacon Bay-hospitaal in Oos-Londen en die Life Orthopaedic-hospitaal in Kaapstad begin werk en die Life Bay View-privatehospitaal in Mosselbaai verkry. Dit het die getal geregistreerde hospitaalbeddens tot 8 322 verhoog
Die omset van Life Healthcare se gesondheidsdienste-afdeling het swakker as dié van die hospitaalafdeling gevaar.

Ná die voltooiing van twee kontrakte met die Oos-Kaapse departement van gesondheid en gevolglike laer volumes het die omset van die gesondheidsdienste-afdeling met net 3,6% verstewig. Inflasiegekoppelde prysverhogings het ook druk op dié omsetgroei geplaas.

In die boekjaar het die groep se verwaterde wesensverdienste per aandeel met 12,7% tot 63,5c gedaal. Die maatskappy skryf sy daling in wesensverdienste hoofsaaklik toe aan ’n eenmalige betaling van sekondêremaatskappybelasting van R322 miljoen vanweë ’n aandeleterugkoop. Die genormaliseerde verdienste per aandeel is 26,1% hoër op 92,7c.

Die bedryfswins het voorts met 20,1% tot R1,867 miljard gestyg. Volgens die groep het salarisse, veral dié van vaardige verpleegpersoneel, ’n groot deel van sy besteding uitgemaak. Salarisverhogings was hoër as inflasie. Volgens ontleders is die land se tekort aan en die behoud van ervare gesondheidsorgdiensverskaffers soos verpleegpersoneel, aptekers en ander spesialiste die hospitaalbedryf se grootste uitdaging.

Life Healthcare is positief oor die vraag na private gesondheidsorg in Suid-Afrika en die nuwe boekjaar. “Historiese groeikoerse sal gehandhaaf word, gegewe die verwagte groei in hospitaalvermoë en ons doeltreffendheidsprogramme.”

Die groep het R600 miljoen toegewys aan kapitaalprojekte in die nuwe boekjaar. Volgens hom verseker dit dat hy in die vraag na diens voorsien en op die hoogte van moderne tegnologie en standaarde bly. ’n Finale dividend van 29c is verklaar wat die volle dividend vir die jaar 52c per aandeel maak.

Die groep se aandeelprys het 16c stewiger op R14,45 gesluit.