News24

Mediese fondse soek nog hofdokumente

2012-07-17 21:47 Kaapstad. – Die mediese fondse wat glo deur die verbruikerskommissaris na die gelykheidshof gesleep is weens diskriminerende praktyke teen swanger vroue, het gister nog geskarrel om die hof­dokumente in die hande te probeer kry.

Fedhealth en sy administrateur, Medscheme, het gister gesê hulle het eers in die media van die hofsaak gehoor en geen hof­dokumente is aanStet “aan”: HAT hulle beteken nie. Momentum, Bonitas en Med­shield sê dieselfde.

Die nasionale verbruikers­komissaris, Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, het intussen bevestig dat sy mediese fondse na die gelykheidshof geneem het weens hul diskriminerende bepalings, waaronder strawwe vir mense wat hulle laat in hul lewe by ’n mediese fonds aansluit.

Die Sunday Independent het die naweek berig dat Medscheme, die administrateur van Bonitas en Fedhealth, die mediese fondse Momentum Health en Medshield, en die Raad op Mediese Skemas (RMS) na die gelykheidshof geneem is.

Bonitas en Fedhealth is glo ook as respondente aangeheg.

“Medscheme het geen rekord van enige amptelike hofaansoek wat aan ons kantoor beteken is nie,” het Yolandi van Zweel, hoof van Medscheme se regsafdeling, in ’n e-pos gesê.

Volgens haar het die afdeling die nasionale verbruikerskommissaris direk gekontak om uit te vind of so ’n aansoek beteken is en, indien wel, waar en wanneer.

Yvonne Motsisi, ’n uitvoerende direkteur, sê hulle het Maandag en gister probeer kontak maak met die kommissaris.

“Tot dusver was ons poging nie suksesvol nie.”

Sy het gesê die normale prosedure in die gelykheidshof vereis dat die respondente in kennis gestel word van die saak.

Peter Jordaan, hoofbeampte van Fedhealth, sê ook niks is aan dié fonds beteken nie.

Aneesa Mahomed, direkteur van die regsfirma Gildenhuys Lessing Malatji, wat Bonitas verteenwoordig, sê dit is baie vreemd om deur die media van so ’n hof­aansoek uit te vind.

’n Soektog deur hulle in Johannesburg se gelykheidshof na die hofdokumente het gister niks opgelewer nie.