News24

SA se buurlande kry ook breëband

2011-03-17 07:50
Kaapstad. - Die Seacom-datakabel gaan ook breëband-internetvermoë na Suid-Afrika se buurlande bring.

Seacom het gister aangekondig dat hy dienste aan Botswana, ­Lesotho, Namibië, Swaziland en Zimbabwe gaan lewer.

Die kabel verbind Suid-Afrika met Indië langs die ooskus van Afrika.

Mnr. Suveer Ramdhani, Seacom se hoof van produkstrategie, sê die maatskappy beplan om van dié lande af nóg verder uit te brei na Zambië, Malawi en Angola.

Hy benadruk dat die uitbreidings Suid-Afrika se internetdienste “glad nie” sal beïnvloed nie.

“Seacom het ’n massiewe vermoë wat hy nou ook aan ander lande sal bied,” sê hy.

Die lê en aanskakel van die Seacom-kabel het Suid-Afrika se internetlandskap beduidend verander.

“Dit was baie doeltreffend om mededinging moontlik te maak,” sê mnr. Arthur Goldstuck, uitvoerende hoof van World Wide Worx.

Suid-Afrika se enigste stelsel die afgelope dekade was die SAT-3-kabelstelsel aan die Weskus van Afrika, wat deur Telkom bestuur word.

“Telkom het geen motivering gehad om pryse te verlaag nie. In die twee jaar voor Seacom gelê is, en sedertdien, het Telkom sy koste verlaag,” sê Goldstuck.

“Dit het gelei tot onbeperkte ADSL-verbindings, goedkoper produkte en groot bemarkingsveldtogte wat meer mense op die internet gekry het,” sê hy.

Sommige Afrika-lande het reeds wesenlik baat gevind by die besteding aan veselinfrastruktuur en die lê van ondersese kabels.

Orange Kenya het gister aangekondig hy is van plan om vesel na huishoudings in dié land te lê. Dit sal spoed van tussen 2 en 8 megabis per sekonde toelaat.

Die Wananchi Group is reeds besig om ’n veselnetwerk na huishoudings te lê.

Suid-Afrika het tot dusver geen rolspeler wat sulke blitsvinnige internetdienste kan lewer nie al het die i3-groep onlangs aangekondig hy onderhandel met ­munisipaliteite om oor die volgende vier tot vyf jaar veselop­tiesekabel deur water- en afval­pype na huise te bring.