News24

Ashanti se ergste vrese waar

2012-08-06 20:57 Johannesburg. – AngloGold ­Ashanti het gister die heelwat swakker verdienste waarop hy beleggers voorberei het, bekend gemaak.

Die groep se aangepaste wesensverdienste het in die tweede kwartaal met 41% geval tot $253 miljoen weens onder meer ’n laer gemiddelde goudprys van $1 607 per fynons teenoor $1 692 in die eerste kwartaal.

In die eerste kwartaal het ’n groot belastingkrediet vergoed vir die swak produksievlakke van sy Suid-Afrikaanse myne.

Suid-Afrika is vanjaar vir die eerste keer nie sy grootste bedryfseenheid is nie. Geita in Tanzanië het ook die plaaslike Mponeng verbygesteek as sy grootste myn.

In die eerste halfjaar was AngloGold se aangepaste wesensverdienste nogtans 25% hoër op $682 miljoen.

Sy kontantkoste het met 13% gestyg tot $798 per fynons en hy hou by sy teiken van tussen 4,3 miljoen en 4,4 miljoen fynonse vanjaar, met kontantkoste onder $805 per fynons.

AngloGold het ’n groot kapitaalbestedingsplan vir vanjaar opgestel waarvan $1,45 miljard na verwagting in die tweede helfte van die jaar bestee sal word. In die eerste halfjaar is net $806 miljoen bestee.

Sy skuldvlakke sal dus styg, maar die doelwit is ’n reeks groot nuwe projekte in die Demokratiese Republiek van die Kongo en Australië wat einde volgende jaar kan begin goud lewer.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof, het gister gesê ’n goudprys van meer as $1 700 is vanjaar weer moontlik. Die prys is tans net meer as $1 600.

AngloGold is ondanks sy kapitaalprogram positief oor sy voorneme om ’n kwartaallikse dividend van R1 per aandeel te betaal en het gister trouens só ’n dividend vir die tweede kwartaal verklaar.

Sy Suid-Afrikaanse goudproduksie was in die kwartaal 16% swakker as ’n jaar tevore op 362 000 fynonse, hoewel dit heelwat herstel het van die eerste kwartaal af.

Veiligheidsopskortings het hom toe 76 000 fynonse gekos en in die tweede kwartaal net 15 000 ­fynonse, het Cutifani gesê.

Hy was gister positief oor die groep se plaaslike vooruitsigte. Die nasionaliseringsveldtog is op die ANC se beleidskonferensie in Junie beëindig, meen hy.

Daar is in die goudsektor nog nie aanduidings van die arbeidsonrus wat vanjaar die platinumsektor die skrik op die lyf jaag nie, het Cutifani in antwoord op vrae gesê.

Amcu, die snel groeiende mededinger van die National Union of Mineworkers (NUM) wat vir die gewelddadige reuse-staking by Impala Platinum verantwoordelik gehou word, het nog nie veel bereik by die groot goudmyne nie.