News24

Groep verwag laer verdienste

2012-07-22 22:19 Die chemikalieëgroep AECI sê in ’n handelsverklaring hy verwag sy wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot einde Junie 2012 gaan tussen 57% en 62% laer wees as in dieselfde tyd verlede jaar.

Hy verwag sy verdienste per aandeel gaan tussen 54% en 59% laer wees as die syfers vir die eerste halfjaar van 2011.

AECI sê die verlaging is weens die koste van sy breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB)-transaksies gedurende sy afgelope halfjaar.

’n Bedrag van R148 miljoen is kragtens internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde (IFVS) as aandeelgebaseerde betalingsuitgawes op die inkomstestaat erken.

Sonder die BSEB-tran­saksies sou AECI se wesensverdienste per aandeel steeds tussen 7% en 12% laer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gewees het.

Dít is hoofsaaklik weens ­wisselvallige mynbou- en ­vervaardigingsproduksie en sy plofstoffiliaal, AEL Mining Services, wat sy produk­sieteiken by die groep se Modderfontein-aanleg misgeloop het.

Hy verwag sy bedryfswins vir die afgelope ses maande het met 9% ingekrimp.