News24

Taks ‘kan toerisme, lugvaart knou’

2011-04-04 07:43
Johannesburg. - Die regering se planne vir ’n koolstofbelasting kan toerisme en die lugvaartbedryf ontsaglike skade berokken.

Mnr. Giovanni Bisignani, die uitvoerende hoof van die internasionale lugvervoervereniging (Iata), het ’n ope brief aan mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, gestuur waarin hy Gordhan vra om ’n beplande voorstel vir ’n nuwe koolstofbelasting in Suid-Afrika te verwerp.

Bisignani, wat lugdienste verteenwoordig wat vir tot 94% van die wêreld se lugverkeer verantwoordelik is, sê ’n koolstofbelasting sal Suid-Afrika se mededingendheid – as toerismebestemming sowel as ’n potensiële beleggingsbestemming – “ernstig benadeel”.

“Daarby sal die lugvervoerbedryf in Suid-Afrika, sowel as sy gekoppelde bedrywe, baie skade ly. Al wat koolstofbelastings doen, is dit jaag vervoerkoste wesenlik op met min of geen voordeel vir die omgewing nie.”

Bisignani sê Suid-Afrika se geografiese ligging maak van hom ’n hoë koolstofvrystelling-bestemming.

“Suid-Afrika maak staat op lugvervoer oor lang afstande om met die wêreld in verbinding te bly. Suid-Afrika se toerismebedryf het sedert 1994 met 6% per jaar gegroei en lewer ’n bydrae van 8,2% tot die bruto binnelandse produk. Om ’n verdere belasting op lugvervoer te plaas kan dié soort voordele uit toerisme baie erg knak. Dié skade kan baie erger wees as die ooreenkomstige potensiële voordeel wat die belasting kan bied.”

Die tesourie het verlede maand aangekondig hy werk aan planne vir die koolstofbelasting. Die besonderhede sal na wat verneem word in die 2012-begrotingsrede aangekondig word.

Die oorspronklike besprekingsdokument getiteld “Vermindering van kweekhuisgasvrystellings: Die koolstofbelasting-opsie”, is in Desember 2010 die eerste keer aan die publiek bekend gestel.

Een van die aanbevelings is dat die tesourie tot R75 per ton se belasting kan hef op koolstofvrystellings.

Gordhan sê die voordeel van inisiatiewe om koolstof te verminder is nie net die om die gevare van aardverhitting te bestry nie. “Dit bied ook groot potensiaal met betrekking tot werkskepping en die vermindering van koste in ons ekonomie.”

Die gevoel is egter dat die regering onder druk is om sy beloftes om klimaatsverandering te bekamp, na te kom.

Suid-Afrika het byvoorbeeld in 2009 op die Verenigde Nasies se beraad oor klimaatsverandering in Denemarke, aangebied om sy kweekhuisgasvrystellings te besnoei met 34% teen 2020. Die nuwe belasting kan een manier wees waarop die regering dit wil bereik.

’n Belasting op koolstofvrystellings kan egter ’n groter, direkte impak op die verbruiker hê.

Eskom, wat hoofsaaklik van steenkool gebruik maak om elektrisiteit te genereer, is ’n groot koolstof-vrysteller en kan swaar belas word onder ’n nuwe belastingstelsel. Dit kan elektrisiteitstariewe aansienlik opjaag.

Intussen sê Bisignani die internasionale lugvervoerbedryf doen reeds meer as sy deel om kweekhuisgasvrystellings te bekamp.

“Ons het reeds ’n ooreenkoms bereik waarvolgens die bedryf jaarliks 1,5% minder gasse sal vrystel tot 2020. Daarby is die besluit geneem om te verseker dat netto kweekhuisgasvrystellings ná 2020 nie deur die bedryf sal vermeerder nie. Derdens is die teiken ook gestel om teen 2050 die bedryf se algehele netto koolstofgasvrystellings af te bring tot 50% van die 2005-vlak.”