News24

Lugvervoer groei stadiger

2012-08-06 20:57 Die internasionale lugvervoervereniging (Iata) sê die verlangsaming in die vraag na lugvervoer is in die pas met die swakker sake- en verbruikersvertroue.

Volgens Iata-syfers het die vraag na lugvervoer in Junie met 6,2% op ’n jaargrondslag toegeneem en kapasiteit met 4,5% wat die laaifaktor op 81% te staan gebring het.

Die groeikoers lyk gesond, maar die groeitendens het sedert vroeg vanjaar verlangsaam, sê Iata in ’n verklaring.

Die groei van Februarie tot Junie kom neer op ’n geannualiseerde groeikoers van 2%.

Dit is heelwat minder as die geannualiseerde groeikoers wat van middel verlede jaar tot Januarie vanjaar aangeteken is.

Lugvragvolumes het met 0,8% toegeneem vergeleke met die vorige jaar. Iata sê die internasionale prentjie verdoesel sterk groei vir die Midde-Oosterse lugdienste (17,9%) en die verbetering in die lugvragvraag in Noord-Amerika.

“Die onsekerheid in die internasionale ekonomie word in die lugvaartbedryf se vertoning weerspieël,” sê Tony Tyler, uitvoerende hoof van Iata.

“Hoewel daar sekere afdelings is wat goed presteer, is dit moeilik om ’n sterk neiging – positief of negatief – op internasionale vlak waar te neem.”

Hy sê passasiersmarkte het sedert begin vanjaar stadiger gegroei en die groei in vragmarkte was gedemp.

“Die netto uitwerking is vraagonsekerheid, aangesien verbruikers en ondernemings hul besteding verskans terwyl hulle vir sekerheid aan die Europese eko­- nomiese front wag,” sê Tyler.

Afrika-lugdienste het in Junie ’n jaargroei van 10,1% behaal, net minder as die vermoë-uitbreiding van 10,6%.

Die laaifaktor van 65% was egter die swakste van dié van die internasionale streke.

Tyler het gister opnuut die belangrikheid van lugvaart as die ruggraat van die toerismebedryf beklemtoon.

Heelwat ekonomieë fokus tans op toerisme in ’n poging om ekonomiese groei en werkskepping aan te help.

Sowat 50% van internasionale toeriste gebruik lugvervoer. “Om ten volle voordeel te trek uit toerisme, het regerings ’n omvattende en intern gekoördineerde beleid nodig.

“In baie dele van die wêreld sukkel lugvaart weens hoë belastings, onvoldoende infrastruktuur en hinderlike regulasies.”

Tyler meen die uitdaging is om alle regeringsdepartemente tot dieselfde doel aan te spoor en beleid in te stel wat volhoubare lugvaartgroei in die hand sal werk.