News24

SAL-afdeling kan nou enjins versien

2012-06-21 08:02 Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se tegniese afdeling (SAAT) het vandeesweek ’n ooreenkoms gesluit met Pratt & Whitney, wat vliegtuigenjins ontwerp, vervaardig en versien.

Hiervolgens sal SAAT in die volgende drie en ’n half jaar JT9D-7R4G2-enjins kan versien en herstel by SAAT se aanleg in Johannesburg.

“Dié ooreenkoms sal nie net SAAT se dienste versterk en uitbrei nie, dit sal ook meer tegniese en ingenieursposte in die afdeling skep,” sê Musa Zwane, SAAT se uitvoerende hoof, in ’n verklaring.

SAAT kan vliegtuigenjins in die JT8- en JT9D-reeks versien en herstel.

Die ooreenkoms met Pratt & Whitney sal volgens Zwane verseker dat die werk nou vinniger gedoen kan word vanweë toegewyde steun vir onderdeelverskaffing en tegniese kennis.