News24

Truter gesels oor wynbou

2012-08-12 17:51 Die gas vanaand in die program Sakegesprek met Theo Vorster op kykNET is Beyers Truter, die persoon agter die suksesvolle Beyerskloof-wynlandgoed.

Truter sal gesels oor hoe hy die werk as wynmaker by Kanonkop gekry het en sy besluit om hom op pinotage-druiwe toe te spits.

Later het hy ’n verwaarloosde plaas by Stellenbosch gekoop en opgebou tot wat vandag die pinotage-pronkstuklandgoed Beyerskloof is.

Die gesprek sal ook fokus op die beginsel om ’n handelsnaam om jou te bou en die uitdaging om dit wêreldwyd sinoniem te maak met goeiegehalte-pinotage.

In die sakenuusgleuf sal Vorster en Riana de Lange, nuusredakteur van Sake24, die week se belangrikste sakenuus bespreek.

Hulle sal onder meer gesels oor die jongste bevindinge van Sake24 se ekonomiese barometers en die aanduidings daarin dat baie van die ekonomiese sektore in verskeie provinsies swaar trek.

Hulle sal ook gesels oor die rol van die staat as aandeelhouer in Telkom, ’n knelpunt in die regering se stryd teen korrupsie en waarom dit moeilik is om te bepaal of breë swart ekonomiese bemagtiging ’n verskil op voetsoolvlak maak.

Heelwat mense skryf in vir die Sakegesprek-kompetisie met ’n Absa-beleggingsprys van R25 000.

Om te wen, moet deelnemers ’n heelgetal tussen 0 en 100 instuur en probeer voorspel wat die helfte van al die gemiddeld van al die ander inskrywings gaan wees.

Inskrywings word beperk tot vyf per deelnemer. Indien meer as een persoon die antwoord reg het, sal dié deelnemers twee desimale by hul antwoord moet voeg om sodoende by net een wenner uit te kom.

Besonderhede hiervan is ook op die webblad (www.sakegesprek.co.za) beskikbaar of ’n e-pos kan gestuur word na getal@sakegesprek.co.za.

Vrae of voorstelle vir die program kan gestuur word na theo@sakegesprek.co.za.

Die primêre uitsending van Sakegesprek is elke Sondag van 19:30 tot 20:00, met herhalings op Maandae (14:00), Dinsdae (10:30) en Woensdae (middernag en weer om 14:30).


Beyers Truter