News24

As ESB nou misluk, ‘volg slagting’

2012-07-30 22:01 Johannesburg. – Stewiger wêreldmarkte het gister ’n duidelike boodskap aan die Europese Sentrale Bank (ESB) gestuur: Beloftes maak skuld.

Europese aandelebeurse het tot hul beste vlakke sedert April geklim in die hoop dat die ESB die streek se skuldvure binnekort sal blus.

Die JSE se indeks van alle aandele het gister 0,83% hoër gesluit op ’n nuwe rekordvlak van 34 959 punte. Die hulpbronindeks het die beste gepresteer en 1,55% hoër gesluit.

Dr. Mario Draghi, president van die ESB, het verlede week belowe dat die bank alles moontlik binne sy mandaat sal doen om die euro van ondergang te red.

Draghi wil glo die Europese Unie (EU) se tydelike hulpfonds gebruik om skuldbelaaide lande se staatseffekte te koop.

Die ESB sal terselfdertyd effekte koop in die sekondêre mark – dit is by beleggers wat reeds staatseffekte hou.

Draghi hoop dié stappe sal skuldbelaaide lande uit die knyp help en beleggers kontant gee om gebruik te maak van rekord-lae rentekoerse in die euro­gebied.

Die ESB-president sal egter eers die ondersteuning van Europa se regerings moet wen.

Duitsland is reeds gekant daarteen dat die ESB staatseffekte koop, maar sonder Duitse ondersteuning sal Draghi nie die EU-hulpfonds tot sy beskikking hê nie.

Hy sal Donderdag al die daad by die woord moet voeg aangesien die meeste beleggers aanvaar dat hy weer die eurogebied se rentekoers sal verlaag.

“Om ’n bloedbad op wêreldmarkte te verhoed sal Draghi Donderdag aan verwagtinge moet voldoen,” sê John Cairns en Josina Solomons, ontleders by Rand Merchant Bank.

Hulle meen die mees vanselfsprekende opsie is dat die ESB weer staatseffekte sal koop, maar die bank kan ook aan die EU se tydelike hulpfonds ’n banklisensie toestaan.

“As niks gebeur nie, sal die opbrengskoers op Spaanse en Italiaanse staatseffekte weer klim en dit sal tot erge spanning sal in die markte lei.”

Ion de Vleeschauwer, hoofhandelaar by Bidvest Bank, waarsku ook dat die huidige vlakke waarteen die rand verhandel reeds ingroot mate optrede deur sentrale banke verdiskonteer het.

“Die mark het hom dalk in ’n posisie geplaas waar hy teleurgestel kan word.”

De Vleeschauwer meen daarom dat die verstewiging in die rand dalk van korte duur kan wees en dat dit op mediumtermyn weer swakker kan neig.

Die rand het gister tot selfs R8,15 teenoor die dollar verstewig en gisteraand vroeg teen R8,20 verhandel.