News24

Bernanke swaai toe geen ekonomiese towerstaf

2012-07-17 21:47 Johannesburg. – Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) het beleggers gister weer teleurgestel en markte tot in die rooi gedruk.

Wêreldmarkte het aanvanklik verstewig in die hoop dat dr. Ben Bernanke, voorsitter van die Fed, leidrade sou gee oor die moontlikheid van verdere kwantitatiewe verruiming in Amerika.

Bernanke het egter in sy verslag aan ’n komitee van die Amerikaanse senaat net gesê die Fed is gereed om die ekonomie ’n hupstoot te gee, maar hy het nie spesifieke beleid­stappe genoem nie.

Die JSE se indeks van alle aandele het ná die uitreiking van die verslag daaroor terug­gesak en die dag 0,06% laer op 33 706 punte afgesluit.

Die verslag het ook die dollar laat verstewig en die rand het teen gisteraand vroeg teen R8,23 teenoor die dollar verhandel.

Bespiegelinge dat die Fed dalk tog sy beleid verder gaan verslap, is versterk deur ’n onverwagse daling in Amerikaanse kleinhandelverkope verlede maand.

Bernanke het gesê onlangse ekonomiese data was in die algemeen teleurstellend en werkloosheid in Amerika sal waarskynlik in ’n frustrerend sta­dige pas afneem.

Bernanke het ook gewaarsku dat die skuldkrisis in die eurogebied steeds ’n groot bedreiging vir Amerikaanse ekonomiese groei inhou.

Volgens ’n peiling deur Bank of America Merrill Lynch het portefeuljebestuurders se verwagtinge dat die Fed nog in hierdie kwartaal ’n ronde kwantitatiewe verruiming sal instel, ietwat vervaag.

Ongeveer 25% van die portefeuljebestuurders verwag dat dit in dié kwartaal sal gebeur en nog 25% dat dit volgende kwartaal ingestel sal word.

Die peiling is verlede week onder 261 batebestuurders wêreldwyd gedoen.

Die prys van Brent-ruolie het gisteroggend tot $104,75 per vat geklim, maar ná Bernanke se verslag het dit weer tot $102,77 teruggesak.

Goud het gisteraand vroeg na aan $1 578 per fynons verhandel nadat die prys vroeër in die dag net minder as $1 600 was.