News24

Indekse kil oor ‘nein’

2012-08-01 05:05 Johannesburg. – Die wêreldmarkte was gister glad nie beïndruk met die nuus dat Duitsland nie saamstem met die Europese Sentrale Bank (ESB) se planne om die euro te red nie.

JSE se indeks van alle aandele het met 1,03% teruggesak tot 34 596 punte.

Die finansiële indeks is die verste afgeslaan, met 1,92%.

Die rand het ook weer saam met die euro veld verloor en gisteraand vroeg teen R8,21 teenoor die dollar verhandel.

Die markte het verlede week begin klim nadat dr. Mario Draghi, president van die ESB, beloof het om die euro se voortbestaan te beskerm.

Daar was veral sprake dat Draghi druk op Spanje wil verlig deur die Europese stabiliteitsgerief, die Europese Unie (EU) se tydelike hulpfonds, van ’n banklisensie te voorsien.

’n Banklisensie sal die fonds in staat stel om geld te leen teen die kontant wat dit klaar hou.

Dié lening sal die fonds aansienlik versterk en verseker dat hy genoeg geld tot sy beskikking het om Spanje en Italië se staatskuld te dek indien nodig.

Die Duitse departement van finansies het egter gister koue water op verwagtinge oor die stabiliteitsgerief gegooi en gesê die fonds se reëls­ maak nie daarvoor voorsiening dat dit met ’n banklisensie bedryf kan word nie.

Beleidsmakers van die drie grootste Duitse politieke partye het hulle ook almal sterk teen die idee uitgespreek.

Intussen het François Hollande, president van Frankryk, en Mario Monti, president van Italië, gesê dat hulle vasbeslote is om die euro te red.

Die leiers het gister in Parys vergader en gesê hulle is verheug oor Draghi se voorstelle om druk op skuldbelaaide eurolande soos Spanje en Italië te verlig.

Malcolm Moller, handelaar by Vunani Sekuriteite, sê winsneming het tot die daling op die JSE bygedra, maar aandelemarkte is wêreldwyd geknou deur kommer oor die eurogebied.

“Dit lyk asof samesprekings met Duitsland nie goed verloop nie. Dit lyk of die Duitsers nou Draghi se uitlatings probeer temper.”

Moller sê die markte is ook baie onseker omdat die ESB en die Bank van Engeland môre hul rentekoersbesluite bekend maak.

Beleggers sal vandag boonop ­angstig wag om te hoor of die Amerikaanse Federale Reserweraad nog stappe gaan doen om die land se ekonomie te stimuleer.