News24

Watter rol moet staat speel in markregulering?

2012-07-26 05:28 Die finansiële krisis van 2008 het wêreldwyd ’n debat aan die gang gesit oor hoeveel en watter soort staatsregulering van markte geregverdig is.

In Amerika is dit ’n belangrike tema in die presidentsverkiesing en dit beïnvloed ook die politiek in Europa en in ontluikende markte.

China se indrukwekkende groei oor die afgelope drie dekades is vir die wêreld ’n voorbeeld van wat baie waarnemers ekonomies suksesvolle “staatskapitalisme” noem.

Brasilië se ontwikkelingsbeleid verleen ook ’n sterk rol aan die staat.

Vrae oor die grootte van die staat en die volhoubare rol van die regering is ook ’n sentrale deel van die gesprek oor die lot van die eurogebied.

Baie van Europa se kritici, veral in Amerika, verbind die eurokrisis met die oorheersende rol van regerings in die gebied, al vaar die Skandinawiese lande goed, ondanks hoë staatsbesteding.

In Frank­ryk sit die nuwe sentraal-linkse regering met die uitdaging van sy belofte van groter maatskaplike solidariteit terwyl die begrotingstekort terselfdertyd beduidend verlaag word.

Benewens die ekonomies gedrewe argumente oor die rol van die regering, is daar ook in baie lande wydverspreide ontnugtering met die politiek en raak die kloof tussen landsburgers en die regering (veral nasionale regerings) ál groter.

In talle lande val die stemgetalle tydens verkiesings.

Die opkoms van nuwe partye en bewegings, soos die Seerowerparty in Duitsland en die Vyfsterbeweging in Italië, weerspieël ernstige ontevredenheid met die bestaande regeringsopset.

In Amerika staan die goedkeuringskoers vir die kongres op ’n rekordlaagtepunt van 14%.

Baie mense daar, soos my kollega Bruce Katz by die Brookings-instituut, meen die enigste oplossing is om ’n groter deel van regeringsbestuur en beleidstoepassing na staats- en munisipale vlak af te wentel, in noue samewerking met die private sektor en die burgerlike samelewing.

Dié benadering hou egter ook nadele in. Kyk na Spanje, waar te veel fiskale desentralisering na streekvlak bygedra het daartoe om die land se andersins gesonde staatsfinansies te verswak.

’n Kritieke probleem by dié internasionale debat is dat dit – ondanks die vooruitgang van tegnologie en globalisering – lyk of die vertrekpunt steeds is dat regeringsbestuur en staatsbeleid byna uitsluitlik tot die domein van die nasiestaat behoort.

Om die gesprek op die werklike uitdagings te rig waarmee ons te kampe het, moet ons na regte op vier vlakke van regering fokus en die mees gepaste toewysing van openbare beleidsfunksies daarvoor identifiseer.

Eerstens kan heelwat beleidselemente, insluitende ondersteuning vir plaaslike infrastruktuur, grondsonering, die bevordering van nywerheidsproduk-sie en opleiding, verkeers­-ordonnansies en omgewings-regulasies, grootliks op streek- of metropolitaanse vlak in ooreenstemming met die wense van plaaslike kiesers bepaal word.

Beleid oor verdediging en buitelandse sake sal uiteraard steeds hoofsaaklik op die tweede vlak van die nasiestaat gehanteer word.

Die meeste nasiestate handhaaf ’n stelsel met ’n nasionale geldeenheid en moet dus fiskale en ekonomiese beleid volg wat ’n monetêre unie ondersteun.

Soos die krisis in die eurogebied gewys het, kan desentralisering nie te ver binne die begrotingsfeer ingeneem word nie, anders kan dit die voortbestaan van die gemeenskaplike geldeenheid bedreig.

Die Amerikaanse stelsel is hanteerbaar omdat die onderskeie state hoofsaaklik gebalanseerde begrotings bestuur, terwyl die federale regering vir die grootste deel van die fiskale beleid verantwoordelik is.

Bankregulering en depositoversekering is gesentraliseerd in Amerika, soos wat dit in ’n monetêre unie hoort. Die eurogebied het dit uiteindelik begin besef.

Regering op die vlak van die nasiestaat bly dus belangrik en dit is dig met monetêre soewereiniteit verweef.

Die vernaamste probleem in Europa tans is of lede van die eurogebied na iets soos ’n federale nasiestaat sou oorskakel.

Tensy hulle dit doen, kan ’n mens nouliks sien hoe die enkelgeldeenheid kan oorleef.

Dan is daar ook ’n streek- of kontinentale vlak van regering, wat in die Europese Unie die verste ontwikkel is en in Latyns-Amerika, Afrika en Asië beproef word. Dit kan nuttig ingespan word.

Doeane-unies, vryhandelgebiede of ’n enkele mark, soos in Europa, maak geredeliker beweging van goedere en dienste moontlik en dit bied die voordeel van skaalbesparing, wat bestaande handelsbeperkings op internasionale vlak nie toelaat nie.

Europa se grenslose Schengen-gebied is ’n ander voorbeeld van streekgebaseerde supra-nasionale regering. Daar is ook aspekte van infrastruktuur wat op kontinentale vlak hanteer kan word.

Ten slotte is daar die interna­sionale vlak. Die verspreiding van aansteeklike siektes, internasionale handel en finansiële transaksies, klimaatsverandering, kernverbodreëlings, teenterreurmaatreëls en internet­sekerheid is enkele van die kwessies wat breë internasionale samewerking en bestuur vereis.

In die hedendaagse verweefde wêreld moet die vier vlakke baie duideliker voor oë gehou word in die gesprek oor die rol van staatsbeleid, die grootte en funksies van regeringstrukture en die geregtelike stand van openbare besluitneming.

Dié vlakke oorvleuel dikwels, byvoorbeeld betreffende infrastruktuur en skoon energie, maar demokrasie sal sterker uitgeleef word as die gesprekspunte verbind word met die vlakke waar besluite die beste tuishoort.

Soos Pascal Lamy, direkteur van die Wêreldhandelsorganisasie, dit stel, is dit nie net die “plaaslike” wat na die “internasionale” geneem moet word nie; die inherent “plaaslike” politieke sfeer moet die internasionale of streekverband internaliseer.

Dit is ’n geweldige groot uitdaging vir politieke leierskap en kommunikasie, maar as dit nie uitgepluis word nie, gaan dit moeilik wees om demokrasie en globalisering te versoen.

Hoe om ’n demokratiese debat met verwysing na hierdie plaaslike, nasionale, kontinentale en internasionale vlakke te bedryf, is die groot uitdaging in die komende dekades.

Kemal Dervis, voormalige minister van ekonomie in Turkye, administrateur van die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram en visepresident van die Wêreldbank, is tans visepresident en direkteur van die internasionale ekonomiese en ontwikkelingsprogram by die Brookings-instituut.


’n Werknemer in ’n tekstielfabriek in China. Dié land se stewige groeikoers die afgelope paar dekades is vir die wêreld ’n voorbeeld van wat baie waarnemers ekonomies suksesvolle “staatskapitalisme” noem. Foto: Reuters