Johannesburg. - Die lang verwagte skuif na ’n ten volle elektroniese
aktekantoor-stelsel is uiteindelik in die vooruitsig.
Maar of die nuwe elektroniese akte-registrasiestelsel (e-DRS) die
tydrowende eiendomsregistrasieproses gaan versnel, bly debatteerbaar.
“Die vordering wat die afgelope 18 maande gemaak is, was
beduidend,” sê me. Mari van Wyk, hoofbestuurder by Korbitec vir GhostConvey, ’n
sagteware-groep wat 80% van Suid-Afrika se oordragpraktyke bedien. Dié groep was
aktief betrokke by die e-DRS-proses en het verskeie bydraes gelewer tot die
e-DRS-beleidsdokument en die elektroniese akte-registrasie-handves van 2009. Sy
sê die kern-e-DRS-beleidsdokument is hersien met
die insluiting van die kommentaar en voorstelle van die eiendomsektor en die
regsgemeenskap.
“Die hersiene dokument het die weg gebaan vir die herskrywing van
die Akte-registrasiewet tot die elektroniese akte-registrasie-handves om die
elektroniese proses in te sluit.” Die handves is deur die eiendomskomitees van
die wetsverenigings voorgelê vir die terugvoering en kommentaar van
aktebesorgers. Dit sal moontlik later vanjaar aan die parlement voorgelê
word.
Van Wyk sê die e-DRS-stelsel sal uiteindelik ’n volledige
elektroniese databasis van SuidAfrikaanse eiendomsbesit vorm.
“Die land se grondhervormingsproses, wat ’n ingewikkelde mengsel
van eienaarskaptransaksies insluit, sal ook deur die nuwe stelsel vergemaklik
word.”
GhostConvey voorsien dat die e-DRS tussen 2014 en 2016 aanlyn sal
wees.
Eiendomsrolspelers reken hoewel die elektroniese aktekantoorstelsel
’n tree in die regte rigting is, gaan dit die proses om ’n eiendom te registreer
nie noodwendig bespoedig nie.
Dit duur steeds tussen 60 dae en 90 dae van die verkoopdatum totdat
die eiendom geregistreer is omdat dit ’n ingewikkelde proses is waarby talle
rolspelers betrokke is.
Mnr. Schalk van der Merwe, eiendomsprokureur van VFV Mseleku, sê
die proses sal net versnel word as al die prosesse in die ketting elektroniese
stelsels kry.
Hy reken die grootste struikelblok lê steeds by die stadsrade wat
maande neem om munisipale klaringsertifikate uit te reik. ’n Klaringsertifikaat
dien as bewys dat eiendomsbelasting betaal is en is noodsaaklik om ’n
eiendomsoordrag by die aktekantoor af te handel. Van der Merwe sê dit duur tans
twee maande of selfs langer om dié sertifikate by die stadsrade te kry.
Aan die positiewe kant meen hy ’n elektroniese aktekantoorstelsel
sal dit meer toeganklik maak vir aktebesorgers op die platteland, wat met die druk van ’n knoppie hul dokumente kan indien.
Die vraag wat hy stel, is of al die aktekantore landwyd nog nodig gaan wees as
die elektroniese stelsel op dreef is.
Nelspruit het onlangs ’n aktekantoor gekry en daar was ook sprake
dat Rustenburg en Polokwane kantore gaan kry.
“Met ’n elektroniese
aktekantoorstelsel sal dit sin hê om een sentrale verwerkingskantoor te hê wat die hele land bedien.”