News24

Amerikaners opgewonde oor SA oliebronne

2012-11-02 06:52 Kaapstad. – Die Amerikaanse olie-eksplorasiemaatskappy Anadarko het ’n kantoor in Suid-Afrika geopen en is baie opgewonde daaroor om by die land se eksplorasieprogram betrokke te wees, sê Frank Patterson, visepresident vir internasionale eksplorasie.

Hy het by Africa Oil Week gesê Anadarko, wat onlangs ’n 80%-belang in twee groot diepsee-eksplorasiegebiede suidwes van Kaapstad by PetroSA gekoop het, het begin met die ontleding van tweedimensionele seismiese data en oorweeg ’n driedimensionele seismiese opname van die gebied.

Patterson sê Anadarko wil die metodes wat hy met welslae in Wes-Afrika gebruik het om olie en gas te vind, ook in Suid-Afrika toepas. Hy meen die ­geologiese data dui op groot potensiaal.

Anadarko het reuse-sukses behaal in die ontdekking van aardgas in die Rovuma-kom aan die kus van Mosambiek, waar hy die hoeveelheid ontginbare aardgas op tussen 30 en 60 tcf (1 tcf is 1 000 miljard kubieke voet) skat. Die eerste produksie van sy twee gasvelde daar word teen 2018 verwag.

Jeff Waterous, voorsitter van Deloitte JMW Energy Advisors, sê Mosambiek en Tanzanië moet ’n geïntegreerde meesterplan opstel om die reuse-gasreserwes aan Oos-Afrika te ontwikkel. Hy meen Ras Laffan, die nywerheidstad in Katar wat in 1996 begin is om dié Midde-Oosterse land se aardgasbronne te help ontwikkel, is ’n goeie model vir Mosambiek. Katar se hoofstad, Doha, was toe nog ’n woestyn.

Die klein Mosambiekse hawens Mtwara en Palma kan eendag soos die huidige Doha lyk, sê Waterous.